EVERSDAL SENIORKOOR PRESTEER BY DIE WORLD CHOIR GAMES

Eversdal Seniorkoor het gedurende die Julie-vakansie in Pretoria aan die World Choir Games deelgeneem. Die Olimpiese Spele vir kore word jaarliks in ander ‘n land aangebied en hierdie jaar was dit Suid-Afrika se beurt. Die skool het die koor die geleentheid gegee om aan die internasionale kompetisie deel te neem en hulle het uitstekend gevaar deur die Ope kategorie vir Jeugkore te wen.

Die koor moes Dinsdag, 10 Julie al 10:30, by Kaapstad Internasionale lughawe aanmeld vir ons vlug. Die mis was egter daardie oggend vreeslik dig en ons vlug is met etlike ure vertraag. Dit het egter nie die opwinding gedemp nie en die 94 koorlede het groot pret op die lughawe gehad. Na n twee-ure vlug en ‘n kort busrit was die Evers lekker moeg toe hulle later die aand by die hotel aankom.

Na ‘n ontbyt by die hotel was Woensdag die groot kompetisie-dag. Ons het die oggend by UNISA se ZK Matthews-saal opgetree en dit het gelyk of die beoordeelaars baie positief oor ons optrede was. Die Ever-ouers wat die optrede bygewoon het, het gedink ons het pragtig gesing en vinnig is honderde Whattsapps terug Durbanville toe gestuur.

Terug by die hotel het ons gemaklike klere aangetrek en toe na die Nasionale Dieretuin vertrek waar ons die res van die middag spandeer het. Ons was veral opgewonde om die wit leeus, die wit tiere en die seekoeie te sien. Die evervarkies in die dieretuin het ons baie tuis laat voel.

Die Donderdag na ontbyt het ons na Loftuspark vertrek om deel te neem aan n Vriendskapskonsert. By hierdie optrede het ons saam met ander kore aan n koorkonsert deelgeneem. Die organiseerders het vir ons moderne musiek gespeel waarop Mouton Coetzee (Gr. 5) ons en die res van die toeskouers met sy danspassies vermaak het. Daarna het ons heerlik by die Uniegeboue piekniek gehou en nuwe vriende gemaak. Ons het die dag by die Menlyn Mall afgesluit waar die meeste van ons ons heel eerste Starbucks geproe het.

Vrydag was beslis een van die hoogtepunte van die toer, want ons was by Gold Reef City! Ons was maar net te bly dit was nie weer nodig om op te tree nie, aangesien ons nie meer stemme gehad het na die “Anaconda” en die “Tower of Terror” nie. Ons het middagete by Wimpy gehad en almal het hierdie dag vreeslik geniet!

Saterdagoggend moes ons vroeg oppak om betyds by die prysuitdeling te wees. Ons het in spanning gewag vir die uitslae en het soos Evers tekere gegaan toe daar aangekondig is dat ons die wenners van die kategorie is. Ons is daarna terug lughawe toe en na ons vlug terug Kaapstad toe, het ons ouers ons op die lughawe ingewag met honderde goue ballonne. Ons was vreeslik bly om terug in die Kaap te wees.

Ons wil graag vir juffrou Madri, juffrou Marna en die ander onderwysers wat saam met ons gegaan het, hartlik bedank vir hierdie wonderlike ervaring en ook vir ons ouers en die borge wat die toer vir ons moontlik gemaak het. Dit was n onvergeetlike ervaring!