GRAAD 7 KAMP 2019

Hierdie jaar het die graad sewe’s hulle gate uit geniet by die kamp by Bergkroon, naby Wellington. Die kamp was vanjaar van die 15de tot die 17de April.

Die kampterrein het al die seuns opgewonde gehad met ‘n veld groot genoeg vir rugby terwyl almal ook kon baljaar in die swembad. Om wakker te word in die oggende is nie te veel van ‘n probleem nie, aangesien die opstaantyd eers 7:00 is en jy eers 8:00 uit jou huisie te kom vir jou ontbyt. Slaaptyd was lekker laat, met “lights out” om 10:30.

Op die kamp was daar drie kort staptogte na wat genoem word “Die Gat” omdat dit omring is met ‘n klomp bome. Daar het die kampleier, Meneer Deon, vir ons stories vertel en vir ons geleer oor die sterre. Op die tweede middag het on ‘n langer staptog gehad, waarop ons geleer het van indringer spesies, fynbos en die natuur in daardie area.

Die kos by die kamp is baie lekker, en by ontbyt kan jy tee of koffie kry, maar as jy nie lus is daarvoor nie, is daar ook verskeie tipes sap. Party van die kinders kry ‘n kans om te help kos opskep gedurende die dag.

Daar is ook gedurende die dag verskillende aktiwiteite tussen vrye tyd, wat aangekondig word met ‘n fluitjie. Die aktiwiteit wat die meeste uitstaan vir almal (op ‘n goeie of slegte manier) was die hindernisbaan, alhoewel jou klere ‘n deeglike was daarna sal benodig.

Aan die einde van die kamp was almal moeg, maar ook hartseer om te gaan na al die wonderlike ervaringe daar. Na ‘n uur se busrit, is almal veilig terug by die skool en gelukkig om huis toe te gaan en in hul eie beddens te slaap, al was die kamp ongelooflik.