EVER BIB

Die Eversdal Laerskool biblioteek

Deur: Jodie Ramackers

In Eversdal Laerskool se skoolbiblioteek, sal jy nooit verveeld word nie. Daar is meer as 14 000 tot 15 000 boeke om jou te vermaak. Meer as 2 000 boeke is op een slag in sirkulasie en word benut deur onderwysers sowel as leerders.

Die graad 1 tot 3’s het ‘n “biblioteekperiode” elke week, waar hulle die rekenaars gebruik, stories vir hulle gelees word en hulle boeke mag uitneem. Hulle leer ook gebruikersvaardighede, soos hoe om mooi deur ‘n boek te blaai en om versigtig te wees vir die “koeldrank monster”. Die hoër grade se onderwysers kan reël vir hulle om biblioteek toe te gaan.

Spesiale dae in die biblioteek ontlok baie opgewondenheid by die kinders. Op wêreldboekedag geniet almal dit om as hulle gunsteling karakter skool toe aan te trek. Gedurende skool biblioteek maand mag die biblioteek monitors gewone klere dra op die dag wat hulle werk. Op World Read Aloud Day word daar gewoonlik ‘n outeur genooi om met die leerders te praat.

Gelukkigheid brand tussen die monitors elke jaar, aangesien hulle ‘n konsert hou vir die graad een’s van die volgende jaar. Met baie beplanning en Juffrou Maryna van Zyl (die wonderlike biblioteekkaresse) se sak van kostuums is hulle altyd gereed om die kleintjies te vermaak.

Soos vroeër genoem, word outeurs van boeke gereeld genooi om met die leerders te kom praat en om hulle boeke te promoveer. Daar is omstreeks twee per jaar. Hierdie jaar was een van die gaste Jaco Jacobs van Zackie Mostert faam! Die leerders het dit baie geniet.

Daar is ook boekverkopings vier tot vyf keer per jaar. Dit word in die voorportaal van die skool gehou en is gewoonlik twee dae lank. Buiten dat leerders tussen die uitgestalde boeke kan rondsnuffel, bring ouers ook gereeld hul beursies skool toe om hulle kinders te bederf met ‘n boek of ses te bederf. Dis die perfekte geskenk vir enige boekwurm se kerskous of verjaarsdag-wegbêre-verrrassing. Daar is ook boek uitstallings by die skool waar nuwe boeke besigtig en gekoop kan word.

Leerders geniet elke nou en dan aktiwiteite in die biblioteek. Juffrou Maryna lees vir die kinders, hulle kan in die speelhoekie skaak speel, slangetjies en leertjies of ander speletjies speel en daar is partymaal skattejagte en ‘n hoekie waar jy kan stem vir jou gunsteling outeur.

Die biblioteek is nie net ‘n plek vir boekwurms nie; almal kan dit geniet op hulle eie spesiale manier.