EERSTE KEER IN DIE GESKIEDENIS – BYBELVASVRA

Met groot opgewondenheid het Laerskool Eversdal se Bybelvasvraspan vir die eerste keer ooit aan die Finale Rondte van die Bybelvasvrakompetisie deelgeneem. Die landswye kompetisie is vanjaar, op 18 Oktober by ATKV Hartenbos gehou.

Ons span het hierdie jaar bestaan uit Arno Maas, Lene van der Poel, Erik Grobler en Ilona Hess.

Die span en hul afrigters, Liezl Maas en Carina Grobler het hierdie jaar baie hard gewerk saam met Juffrou Geldenhuys se ondersteuning om in die top tien in die land te eindig.
Die lang pad na Hartenbos toe was met gemengde gevoelens -vol senuwees en opwinding. Vrydagmiddag moes ons reeds skryf.

Die pret het eers regtig begin toe die toets agter die rug was…

Na afloop van die kompetisie was die spanne almal saamgenooi vir ‘n kenmekaarsessie by die pretpark. Hulle het almal prettige speletjies gespeel, gekuier en hulself geniet terwyl hulle hul mede-bybelvasvradeelnemers leer ken het. Die spanne het almal na die tyd nog gebly om te kuier waar hulle gratis by die waterwurm afgegly en putt-putt gespeel het.

Saterdag kon die span vrylik Saterdag spandeer, net soos hulle hart begeer het, maar hulle harte het steeds die waterwurm begeer.

Die groot Galadinee, wat die 40ste viering van die kompetisie was, was besonders. Laerskool Eversdal was bederf, om die minste te sê, en soos regte eregaste hanteer. Na ‘n aand van lekker saam lag en kuier, is die wenners aangekondig nl. Elarduspark, Randhard en Goedehoop.

Ongelukkig het ons span nie eerste plek behaal nie, maar ons is nog steeds trots om te sê dat ons tiende landswyd aangewys is en is ook wel die beste in die Wes-Kaap.
Nie te sleg vir die eerste keer nie, of hoe?

Die naweek het ongelukkig tot ‘n vinnige einde gekom met nuwe vriendskappe gesmee en ‘n motivering om weer volgende jaar ATKV Hartenbos toe te gaan onder die top tien.
Aangesien twee van die vier lede van die span vanjaar in graad 7 is, word volgende jaar se graad 6 en 7 leerders aangemoedig om deel te neem aan die uitdagende pret.

Wie weet? Miskien bring volgende jaar se span die beker huis toe?

Daar’s mos altyd ‘n eerste keer vir alles.