EVERSDAL KULTUURAAND 2019

By Laerskool Eversdal is ons geseën met vele talent in kultuur. Ons Junior- en Seniorkoor is hoë presteerders, die eersgenoemde wat deelgeneem het aan die TIE, Stellenbosch Eisteddfod, Helderberg Eisteddfod en ATKV Applous en die laasgenoemde aan die TIE, ATKV Applous en Stellenbosch Eisteddfod  asook die drama groep wat uitstekend gevaar het in die Silwervaring toneelfees, die nuwe loodsprojek van die ATKV, naamlik die ATKV Tjokkertoneel en het die voorreg gehad om in die Adam Small Teater op te tree. Die marimba groepe geniet hulself gate uit met hulle liedjies en beide groepe het in die TIE uitgeblink.

Aan die einde van die jaar, elke jaar, kry al die Evers ‘n kans om met hulle talent te spog. Hierdie jaar s’n was asemrowend. Die aand was gevul met talent, veral toe ons eie Mev. Aneske Jacobs saam met die seniorkoor gesing het. Die drama groep het hulle toneel “Die handelaar se beloning” opgevoer en marimba groep 1 het hulle twee liedjies gespeel. Daarna was daar ‘n klomp talentvolle musikante op klavier, blokfluit, dwarsfluit en viool asook die wat gesing het en die wat gedigte opgesê het of gelees het.